CANSA

Die Donker Kant van Tabakbemarking – 'n Duistere Kuns

Posted 22 May 2012

English Press Release

16 Mei 2012: Donderdag, 31 Mei 2012, is Wêreld Geen Tabakdag en die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) neem die tabakindustrie se skadelike gebruike onder die loep. Tabak veroorsaak die dood van bykans ses miljoen mense per jaar - dis gemiddeld een persoon elke ses sekondes, met die grootste toename in lae- en middelinkomste lande. In Suid-Afrika sterf meer as 44 000 mense jaarliks aan tabakverwante siektes.

Die wydverspreide gebruik van tabakprodukte in ons samelewing en ook wêreldwyd stel voortdurend ‘n enorme uitdaging vir openbare gesondheid. Ten spyte van wetgewing wat advertensies beperk, word tabakprodukte steeds aggressief bemark.  Hierdie toedrag van sake bly steeds hoog op KANSA - en ander internasionale instansies wat tabakadvertensies aanspreek - se ordelyste.

"Ons streef daarna om besluitnemers en die algemene publiek in te lig oor die tabakbedryf se skadelike en 'duistere' bemarkingstaktiek om tabakprodukte op klandestiene maniere aan te moedig en vroue en jongmense in die versoeking te lei om rokers te word," sê Sue Janse van Rensburg, KANSA se Hoof Uitvoerende Beampte (HUB).

"Ons wil die breë publiek bewus maak van die tabakbedryf se taktiek om mense uit te lok om te rook. Ons is bewus daarvan dat tabakprodukte in die onlangse verlede vryelik beskikbaar was en op eksklusiewe partytjies bemark is. Pragtige dames word gebruik om hierdie bemarking te doen en selfs sigarette gratis weg te gee om die beeld te skep dat dit die ‘in ding’ is om te rook."  Ons beskik ook oor bewyse dat spesifieke sigarette in kettingwinkels en in restaurante nog so onlangs as November 2011 bemark is.

KANSA waarsku dat tabakgebruik in enige vorm skadelik is vir gesondheid en dat om selfs net  in die teenwoordigheid van 'n rokende persoon te wees, gevaar inhou. Dit is bekend dat die rook van tabak, insluitende tweedehandse rook, longkanker, hart- en ander siektes veroorsaak. 'n Groot bron van kommer is die rook van hookah of waterpyp wat 'n gewilde tydverdryf by baie tiener- en studentepartytjies is. Alhoewel hulle dink dis veiliger as sigarette, is dit in werklikheid dodelik. Die rook van een hookahpyp verskaf net soveel nikotien as 10 sigarette. Selfs nadat die rook deur die water getrek is, bevat dit nog hoë vlakke van gifstowwe, insluitende koolstofmonoksied en chemikalieë wat kanker kan bevorder.  Lees die 2012 Feiteblad en Powerpoint Aanbiedinge in verband met tabakprodukte en waterpype.

Janse van Rensburg voeg by : “Dit is dit elkeen van ons se verantwoordelikheid om die koverte taktiek van die tabakbedryf en sy agente te beveg en die keuse te maak om dit op geen manier te ondersteun nie. Raak vertroud met die wetgewing ten opsigte van die Beheer van Tabakprodukte - omdat jy die reg het om op 'n rookvrye omgewing aan te dring. Ons moedig jou aan om enige oortreding van die wet by die plaaslike munisipaliteit se Omgewingsgesondheidskantoor aan te meld." Lees meer oor die Wet op die Beheer van Tabakprodukte...

Die Wet op die Beheer van Tabak beperk die adverteer van tabakprodukte, insluitende 'viral' (internet) bemarking, wat 'n gesogte manier is om jong mense te teiken. KANSA beklemtoon die behoefte om hierdie wetgewing te ondersteun sodat tabakmaatskappye verhoed kan word om hulle skadelike produkte aan die publiek te bemark.

Dring aan op jou reg op 'n rookvrye wêreld en help KANSA om 'n rookvrye omgewing te bevorder : koop ‘n plakker vir R5 by die naaste KANSA Sorgsentrum en dra dit op Donderdag, 31 Mei: Wêreld Rookvrye Dag.

KANSA help tabakverslaafdes deur ons ‘eKick Butt’-program – 'n unieke en gratis aanlyn program wat die roker help om die rookgewoonte te staak. Deur middel van 'n reeks e-posbriewe, navrae en internet-programme word die roker gelei en gementor, om te verseker dat die stakingsproses 'n permanente gewoonte word en nie net die periode tussen twee sigarette bly nie. Die program verskaf ook 'n reeks handige en beproefde hulpmiddels om seker te maak die staking van die rookgewoonte is blywend.  Lees verder oor die Nicorette Opname...

Omtrent KANSA

KANSA bied 'n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en aan almal wat deur kanker geraak is. As ‘n   leidende rolspeler in kankernavorsing (met meer as R6 miljoen jaarliks gespandeer op navorsing)  word die wetenskaplike bevindings en kennis opgedoen deur ons navorsing aangewend om ons gesondheidsprogramme te rig en ons waghondfunksie tot groter voordeel van die publiek te versterk.

KANSA het in 2009 die Wêreld Geen Tabakdag Prestasietoekenning van die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) ontvang in erkenning van KANSA se rol in die geveg teen tabakgebruik in Suid-Afrika. KANSA het ook bygedra tot die fasilitering van die anti-rookwetgewing. Hierdie wetgewing behels onder meer die verbanning van die advertering van enige tabakprodukte, die beperking op die blootstelling van kinders aan tweedehandse rook, asook die beperking van rook in openbare plekke.

Ons ver-reikende gesondheidsprogramme sluit ook in voorkomingsdienste (wat opleidings- en vroeë opsporingsveldtogte insluit), KANSA Sorgsentrums met stoma- en limfedeemklinieke, mediese toerustinghuur, tolvry lyne en die ondersteuning aan kinders en hulle gesinne wat deur kanker geraak is; Pasiëntsorg en –ondersteuning vind plaas by die 13 KANSA Sorg Tuites in die groot metropolitaanse gebiede en by een hospitium (in Polokwane) vir plattelandse kankerpasiënte, asook by KANSA se TLC-verblyfsentra vir ouers van pediatriese onkologie pasiënte.

Volg KANSA op Twitter: @CANSA en sluit aan by KANSA se Facebookgroep by: CANSA: Fighting cancer in South Africa

Navrae KANSA

Vir meer inligting skakel asseblief Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA: 011 616 7662 of selfoon: 082 459 5230 of e-pos: lbalona@cansa.org.za.  Of besoek www.cansa.org.za of skakel KANSA tolvry 0800 22 66 22, of e-pos: info@cansa.org.za