CANSA

Mans – Kyk na Julle Belangrikste Gereedskap

Posted 14 December 2011

English news release

4 November 2011 - As deel van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) se mansgesondheidsveldtog moedig hulle alle mans aan om beheer te neem en voorkomend op te tree wat hulle eie gesondheid aanbetref. "Ons moedig alle mans aan om dit deel van hul roetine te maak om gereelde selfondersoeke te doen, asook om verdere opsporingstoetse te laat doen en om 'n gesonde en gebalanseerde leefstyl te handhaaf  - dis immers hul belangrikste gereedskap, " sê Sue Janse van Rensburg, KANSA se HUB.

Testikulêre kanker is die mees algemene kanker wat by jong mans tussen 15 en 39 jarige ouderdom voorkom, terwyl mans ouer as 50 hoofsaaklik deur prostaatkanker geaffekteer word – met een uit elke 24 mans wat prostaatkanker opdoen is dit die mees algemene manskanker in Suid-Afrika.

Janse van Rensburg voeg by: "Kom ons wees eerlik: in vergelyking met vroue, is mans meeer geneig om hul gesondheid af te skeep. Baie mans vermy gereelde gesondheidsondersoeke omdat hulle bang is dat hulle hospitaal toe sal moet gaan of omdat hulle verleë voel hulle gesondheidskwessies te bespreek. Dikwels is hulle eenvoudig te besig om 'n dokter te gaan sien."

KANSA wil mans deur middel van hul Mansgesondheidsveldtog bewus maak van waarskuwingstekens en inlig oor hoe belangrik dit is om prostaat- en testikulêre kanker vroegtydig op te spoor. Vroeë opsporing lei tot meer effektiewe behandeling  en 'n groter kans op herstel. KANSA se opsporingsklinieke (wat hiervoor ingespan word), het die afgelope jaar meer as 5 600 Prostaat Spesifieke Antigeen (PSA) toetse uitgevoer om prostaatkanker-opsporing aan te moedig.

KANSA se P-Balspel ('n bewustheidshulpmiddel) behels die oplos van 'n klein bio-afbreekbare balletjie wat in 'n urinaal geplaas word. Die doel is om, met 'n vol blaas, die balletjie in die kortste moontlike tyd te laat oplos om daardeur die sterkte van die urienstroom te bepaal. 'n Swak urienstroom mag 'n waarskuwingsaanduiding van prostaatkanker wees - mans wat dit ervaar behoort hulle dokters te spreek. Tydens die 2010 Sanlam Kankeruitdaagreeks het die P-balspel 12 golfspelers daarvan bewus gemaak dat hulle vroeë tekens van prostaatkanker ervaar, en het hulle onmiddelik mediese advies ingewin. Die P-balspel is beskikbaar teen R20 en kan aanlyn bestel word of by enige KANSA Sorgsentrums landswyd bekom word.

KANSA moedig mans aan om betrokke te raak by die ‘Movember’ veldtog en daardeur ander mans bewus te maak van die waarde van vroeë opsporing van manskankers. “Deur hulle snorre te laat groei tydens November, kan mans – wat dikwels geneig is om weg te skram van gesprekke oor hul gesondheidskwessies -  nou openlik oor hul snorre en mansgesondheid praat en terselfteryd fondse vir KANSA insamel," aldus Janse van Rensburg. Om aan Movember deel te neem, registreer by www.movember.com.

(Vir meer inligting skakel asseblief Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA of e-pos lbalona@cansa.org.za, skakel 011 616 7662 of selfoon: 082 459 5230.  Besoek www.cansa.org.za of skakel KANSA tolvry by 0800 22 66 22, of e-pos info@cansa.org.za.)

Omtrent KANSA

KANSA bied 'n uniek geïntegreerde diens aan die publiek en aan almal wat deur kanker geraak is. As ‘n leier in kankernavorsing (meer as R5 miljoen word jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis deur ons navorsing opgedoen, aangewend om ons gesondheidsprogramme te rig en ons waghondfunksie tot groter voordeel van die publiek te versterk. Ons verreikende gesondheidsprogramme sluit in voorkomings- en bewusmakingsprogramme asook pasiëntsorg en –ondersteuning en ‘n tolvry inligtingsdiens.

KANSA Sorgsentrums bied stoma en limfedeemklinieke en verhuur mediese toerusting. Ondersteuning word verder gebied aan gesinne wat deur kanker geraak word. KANSA bied pasientsorg en- ondersteuning by 13 KANSA Sorgtuistes in die groot metropolitaanse gebiede, ‘n hospitium (in Polokwane) vir plattelandse kankerpasiënte en KANSA TLC Sorgtuistes vir pediatriese onkologie ouers.